’n Tweede Plaasjapie-reeks is op pad! En as jy die verskil van ’n stoep-en-tee-boer en ’n murg-en-been-boer ken, is dié gewilde kykNET werklikheidsreeks jou kans. Dan is daar natuurlik tot R1 miljoen-prysgeld op die spel.

16 deelnemers gaan mekaar die stryd aansê om hul staal en boervernuf te toon. Dis net daar waar die kinkel is. Plaasjapie is nie op soek na gevestigde boere nie, maar na stads- en dorpsjapies wat smag na die plaaslewe en die uitdagings wat dit bied.

Is jy iemand wat soos ’n boer ’n plan kan maak, ongeag die omstandighede? Het jy al in ’n basiese skuur sonder veel geriewe met 15 vreemdelinge gebly?

Wees verseker, daar gaan gekonkel en dalk by tye ook gekul word. Planne gaan gesmee word met alliansies en ander gaan jou weer onder die spreekwoordelike bus, of eerder trekker, probeer gooi – alles ter wille van oorlewing en lekker pryse.

Terwyl jy deurentyd bewus moet bly van die onderstrominge in die groep, moet jy ook fokus op take wat voltooi moet word. Dit gaan harde werk wees en soms mag jy dalk wonder of jy die regte ding gedoen het. Maar dis waaroor dit gaan om ’n boer te wees – om uit te hou, aan te hou en altyd met ’n doenbare plan vorendag te kom.

Ewan Strydom is terug as aanbieder en gereed om ‘Boer Ewan’ se vellies aan te trek, moue op te rol en aan die werk te spring met die nuwe reeks. “Ek is baie opgewonde oor die vooruitsig van seisoen 2 van Plaasjapie” sê Ewan. “Ons het ‘n paar nuwe kinkels ingewerk en die stadsjapies gaan moet hard werk en kop hou om aan die anderkant uit te kom.”

afrOkaans vervaardig die tweede seisoen van die kykNET oorspronklike realiteitsreeks, Plaasjapie.